My vriend, my buurman.

Created by Jan Eckard 3 years ago
Dankie vir die geleetheid om n paar woorde te sê oor my vriend Johan, my buurman en
Bosvelder in murg en been.


Waar begin n mens weer voor droom?  Na die tragiese afsterwe van my vriend, my buurman. 


Ek is n eenvoudige boer in die bosveld van Ellisras, ek lewe di plaaslewe uit volle bors.


En ek is arm. Arm want ek het n gewardeerde vriend en buurman verloor. ‘n Man en mens wat meeste van ons net kan droom om te wees. In die jare wat ek bevoorreg was om ‘n buurman te geken het, het ek elke keer as ons groet ‘n aangename trotse gevoel oor my gekry.


Want sy sprankel, vonk in sy oë, sy huppel in sy stap, sy stoute lag in sy oë, ‘n grappie of drie. Sy opgewondenheid oor sy werk, sy familie, sy plaas, sy land, en sy mense was aansteeklik.


Hy was n trotse Suid Afrikaner. My buurman het my weekliks uit Brussels gebel waar hy vasgekeer was sedert die begin van Covid. Dan kon ons sommer net praat oor die plaas, ons land, die vrou en kinders, die bosveld en sy mense. Die diere. En ons drome. 


En ons het mooi drome gehad ek en hy. Oor ons land, oor boerdery en ons families. Onlangs bel hy my met die nuus. “Ou buurman,” seg hy. “Ek wil net jou laat weet. Ek het my internasionale stewels opgehang.” Dan lag hy uit sy maag. “Ek speel nou net provinsiaal.”


Hy gaan nou sy liefde in SA uitlewe. Hy kom huis toe. Plaas toe. Nou gaan ons boer.


Nou is my ou maat weg. Ek is seer. En ek gaan sy oproeppe, sy lag en sy opgewonde gesels so mis. 


My gebede gaan uit na Santie  en die kinders.


As ons so seer het kan ons net dink hoe moeilik moet dit vir jul wees. Sterkstaan. Kom ons laat sy legende voortleef. Om dit wat hy voor geveg het, gelewe het, gedroom en liefgehad het voort te sit. 


Ons Bid vir almal. Maar veral sy familie. Jesus liefde jul toevou, dat die Here vir jul berusting, kalmte en vrede sal gee. 


Rus in vrede my ou maat. Ons sal jou nooit vergeet nie. Jou legende leef voort hier in die Bosveld.


Jan Eckard.
Ellisras.

Pictures